Donderdagaand (24 Maart) is hierdie rolprent spesiaal deur die skrywer-en rolprent-vervaardiger Sean Else by Aan de Doorns Kelder vertoon om dankie te sê aan die gemeenskap van Worcester. Veral aan die boere in die Aan de Doorns, Overhex en Eilandia omgewing, wat hul plase oopgestel het vir die vervaardiging van die rolprent. Sommige van ons bekende boere is ook sommer as byspelers gebruik! Die ouer garde in Worcester sal hulle sommer dadelik herken en ja, hul spel was so goed dit eintlik gelyk het asof hulle regtig ‘n oorlog deurgemaak het! Daar is ook bruik gemaak van jong seuns wat gewerf is by drie plaaslike hoërskole, Drostdy, Montana en Worcester Gimnasium. ‘n Stylvolle ‘Ingelse’ ete is ook op Merwida Gastehuis se stoep aangebied. Die perde is deur Johan Jordaan van Rawsonville voorsien.
Worcesteriete en rugby geesdriftiges sal hierdie rolprent in die besonder geniet wat grootliks handel oor die lot van die Kaapse boere wat in die Anglo-Boereoorlog vir die twee Boere republieke teen die Engelse gaan veg het en gevange geneem is. Hierdie dapper Rebelle wat dit durf waag het om teen die magtige Britse Ryk te veg, het ‘n baie krasser bannelingskap deurgemaak as die Transvaalse en Vrystaatse gevangenes. Hierdie is egter nie net ‘n verhaal, wat ‘n blik op ons land se geskiedenis gee nie, maar vertel ook van die interessante wegspring van ons land se Springbok rugbygeskiedenis waarin die bannelinge op St Helena-eiland ‘n belangrike rol gespeel het. Die Engelse wou rugby speel, en die boere wat die spel kwalik geken het, het gou geleer. Die uitdrukking’ ‘n boer maak ‘n plan’ is in hul spel toegepas en met hul terugkeer word ‘n rugbybeweging hier gevestig. Die oorsprong van die gewilde spel in SA was dus eintlik gedeeltelik in ‘n krygsgevangenekamp!
Click on image below to view trailer