Tydens ‘n spoggerige toekenningsgeleentheid op Woensdag, 22 Augustus, is die wenners van die jaarlikse Breedekloof / Worcester-streeksjongwynskoukompetisie aangekondig.
Dié kompetisie gee erkenning aan die gehalte van ongebotteleerde jongwyne in ‘n vat of ‘n tenk en is een van die belangrikste kompetisies in die wynbedryf. Altesaam 14 wynkelders uit die Breedekloof- en Worcester-wynstreke het ingeskryf en daar was meer as 350 wyne wyne wat beoordeel moes word.
Nie net is die Aan De Doorns Kelder Cabernet Sauvignon (ongehout) sowel as die Merlot (ongehout) as kampioene aangewys in die onderskeie kategorieë nie, maar is daar ook op nasionale vlak drie goue toekennings ontvang, naamlik: Ruby/Merlot (Droë rooi versnit), Rooi Muskadel en Cabernet Sauvignon.
Oor die toekennings het ons wynmaker, Chris Geldenhuys, die volgende gesê: “Die Merlot en Cabernet was vir my ‘n reuse verrassing. Beide wingerde het bietjie swaarder gekry weens droogte en uiterste klimaatsomstandighede, maar die natuur het dan ook weer op sy beurt gesorg vir klein korreltjies wat intens in geur en veral kleur was. Ek het spesifiek nuwe tannien tegnieke en protokol op die Merlot probeer en dit het beslis vrugte afgewerk.”
“Hierdie toekennings kom nie net vanaf een man se hand af nie – van Bo af moet jy eerste geseën word met goeie druiwe en dan is dit spanwerk (van die man wat die wingerd snoei en pars tot die boer, die wingerdboukundige, die kelderwerker wat die wynmaker help) en die hele spangees rondom dit om alles tot sy reg te laat verloop vir goeie, donker, vol rooiwyne waarop ek as wynmaker baie trots is.”